As die lewe jou slaan, slaan terug!



Moenie vir een oomblik glo Roderick Jafta is in die werklike lewe ook so prim en proper soos die karakter wat hy in Villa Rosa vertolk nie. Dr Anthony Jackson is darem so ’n gawe, galante kêrel, wat selfs met die bose Astrid oor die weg kom. Roderick, daarenteen, is ’n propperse platjie en wanneer hy iets sê, moet jy dubbel seker maak hy trek nie dalk jou siel uit nie. By die huis is hy Pappa, sê hy, maar by die Atlas-ateljees, waar Villa Rosa opgeneem word, laat hy niemand met rus nie.

Anthony se agtergrond is interessant en kleurryk. Hy was maar ’n ou klein kannetjie van sowat vier jaar oud toe sy ouers uit die Langkloof weg is Kaapstad toe. Daar het hy in Tiervlei grootgeword en skoolgegaan voordat die gesin Mitchells Plain toe is. “Die belangstelling in die kunste was maar altyd daar, maar daai tyd het ’n ou sport gedoen en niks anders nie. Drama en dié klas van ding was vir sissies. Ek het mettertyd ’n liefde vir drama ontwikkel, maar durf dit nie erken het nie. Die akteur André Roothman was my Engelse onderwyser. Ons voorgeskrewe werk in my matriekjaar was Shakespeare se Hamlet en ek het altyd vreeslik daarvan gehou as meneer Roothman my gevra het om voor te lees. Hy het dalk een of ander talent by my raakgesien.

Oor sy karakter in Villa Rosa skud Roderick net sy kop. Natuurlik geniet hy dit terdeë en bied die werk vir hom geweldig baie sekuriteit, maar soms wens hy net die skrywers wil so ’n slag vir dr Anthony goed kwaad laat word. Hy is darem net te goed om waar te wees. “Hou maar dop,” sê hy dan. “Ek mag niks van die storielyne verklap nie, maar die kykers kan maar weet daar gaan iets uit Anthony se verlede opduik wat almal gaan verras.”

Lees die volledige artikel in die Vrouekeur-uitgawe van 4 Februarie 2012.

Besoek die Vrouekeur webwerf deur hier te klik.