Vere



VERE

Reeks is verby

Die reeks handel oor voëls en is hoofsaaklik gemik op die beginner-voëlkyker.

Die storielyn begin waar tuine ontgin word vir voëlspesies, beweeg dan na damme, die see en ‘n riviermonding, waarna Savanna- en Grasland-spesies onder die loep kom. Die reeks word afgesluit met ‘n reis deur die land om vir kykers ‘n voorsmakie te gee van wat hulle kan verwag in ‘n paar uitgesoekte gebiede in Suider-Afrika.

Die reeks hanteer ook interessante feite oor spesifieke voëlspesies, die gedrag van voëls en onderwerpe soos hoe voëls se sig werk, wanneer is dit die beste tyd om voëls te kyk, paringsgedrag, hoe voëls dit reg kry om te vlieg, hoe oud voëls word en hoe hulle na hulle kleintjies omsien, om maar ‘n paar te noem.

Die reeks word aangebied deur Ben Smit, ‘n student aan die Universiteit van Pretoria, waar hy besig is met sy doktorsgraad in Dierkunde, spesifiek voëls. Die grootste deel van sy navorsing handel oor energie en waterbalans, spesifiek van die voëltjies in die droë, woestyngebiede van die Kalahari en Namakwaland.

Episode 1 - 2 Oktober 2011
Ons begin ons voëlkyk-ervaring in ‘n Pretoria-tuin en maak kennis met ‘n paar Houtkappers en Lysters, om nie eens van die klein Glasogies te praat nie!

Episode 2 - 9 Oktober 2011
Ons ontgin ons Pretoria tuin verder, vind uit hoe lank voëltjies lewe en hoe goed hulle na hulle kroos omsien en gaan maak ‘n vinnige draai in die Fynbos.

Episode 3 - 16 Oktober 2011
Ons gesels bietjie oor die oer-oue Muisvoëlspesies, ontmoet ‘n paar mossies by ‘n winkelsentrum en gaan kyk hoe voëls se oë nou eintlik werk.

Episode 4 - 23 Oktober 2011
Ons gaan kuier in Port Elizabeth waar ons kennis maak met ‘n klompie suikerbekkies, ons sien hoe ‘n Willie haar kleintjies voer en ons ontmoet die Hoep-hoep met sy eienaardige geskiedenis.

Episode 5 - 30 Oktober 2011
Ons kuier in ‘n lekker groen Kalahari, waar ons ‘n paar voëltjies in ‘n misnet aankeer en van naby af bekyk.  Ons kom ook op ‘n Skopsuil af.

Episode 6 - 7 November 2011
Ons is nog steeds in die Kalahari en ontdek ‘n paar voëlspesies wat van ver af getrek het om hier te kom kuier.  Ons kom ook af op die paringsritueel van ‘n paartjie Gevlekte Sandpatryse – iets wat nog min voëlkykers gesien het!

Episode 7 - 13 November
Ons is nog steeds in die Kalahari en loop ‘n Kaapse Kapokvoëltjie se nessie in die veld raak, waarna ons weer terugkom Pretoria toe en gaan soek vir watervoëls.

Episode 8 - 20 November
Ons spandeer ‘n lekker tyd by ‘n voëlreservaat, waar ons naby aan watervoëls kom en ons volg ‘n Bleshoender se lewe vanaf kuiken tot volwassene.

Episode 9 - 27 November
Ons gesels oor die Bloukraanvoël, kyk hoe ‘n Mahem deur ‘n hout-namaaksel om die bos gelei word, beskryf die Biome van Suid-Afrika en gaan na ‘n dam toe waar ons amper aan ‘n Slanghalsvoël kan raak.

Episode 10 - 4 Desember

Ons maak van nader kennis met ‘n paar damduikers, onderbreek ‘n Reuse-visvanger se beplanningsiklus en gaan ontspan langs ‘n dammetjie naby Port Elizabeth.

Episode 11 - 11 Desember

Ons gaan kyk bietjie watter voëlspesies hang op die strand uit en gaan maak ‘n draai by ‘n instansie wat die hoogs-bedreigde Brilpikkewyn red en versorg, sodat hulle weer vrygelaat kan word in die natuur.

Episode 12: 18 Desember

Ons ontgin ‘n riviermonding in die Port Elizabeth-omgewing, loop ‘n Rooibandstrandkiewiet raak en bewonder die dans van die flaminke.

Episode 13: 1 Januarie

Ons besoek Rietvlei Natuurreservaat se Bankenveld, ‘n oorgang van Grasland na Savanna, en skud blad met die Oranjekeelkalkoentjie en windgat Gestreepte Wipstert.

Episode 14: 8 Januarie

Ons val vas in die omgewing van ‘n koue en nat Memel en besoek ook Wakkerstroom om meer te wete te kom oor die spesiale voëlspesies van die Hoëveld se graslande.

Episode 15: 15 Januarie - reeks eindig

In hierdie finale aflewering deurkruis ons die land van die Suid-Kaap tot Mosambiek met selfs ‘n draai deur die Hel, waar ons op ‘n voëlspesie afkom wat vroeër jare al agter die ossewaens aangetrek het.

Vere DVD is nou beskikbaar!

Die gewilde TV-reeks, Vere, is nou beskikbaar op DVD! Die beste grepe uit die 15 episodes is saamgevat in 'n stel van 2 DVD's en beskikbaar teen R195-00, posgeld en verpakking ingesluit.

Voëlkyk is die ideale vermaak vir die hele gesin en nuwe-, sowel as gesoute voëlkykers sal by hierdie DVD's baat vind! Dit begin by die voëls in jou tuin en beweeg dan uit na damme, riviermondings, die see, ens.

Daar word gepraat oor onderwerpe soos hoe 'n voëltjie se sig werk, waar is voëltjies se begraafplaas, hoekom staan voëls so graag op een been en nog baie ander.

Kontak johan.vere@gmail.com om te bestel.
  • Relevante Nuus