Stef Joubert (Retief)



Stef Joubert (Retief) (Marcus Muller)

Stef is gebore en getoeë in Clocolan. Hy is Prof. Fritz Retief se seun uit 'n kortstondige huwelik met Helene Joubert.

Na die onlangse afsterwe van sy ma en 'n brief wat hy tussen haar goed ontdek, maak hy sy opwagting by die Villa op soek na sy pa. Sy ma het nooit weer getrou nie en het hom oor die jare heen opgemaak teen sy pa. Dis juis daarom dat Stef aanvanklik daarop uit is om wraak te neem omdat hy oortuig is sy pa is die boef in die egskeidingstorie. Hy neem Fritz ook kwalik dat hy sonder 'n pa grootgeword het. Fritz wen egter gou Stef se guns en enige kwade gevoelens word gou uit die weg geruim. Stef vind uit dat sy ma en Fritz skaars twee dae getroud was (na sy eerste huwelik met Mari) toe sy besluit het dat hulle paaie moet skei. Helene, 'n free spirit, het besef sy kon nie haarself aan 'n man verbind vir die res van haar lewe nie. Fritz het sy ma dus nooit in die steek gelaat soos Stef aanvanklik gemeen het nie.

Stef onthul 'n manuskrip van ’n roman waaraan sy ma gewerk het en nooit voltooi het nie. Die verhaalgebeure het hom verkeerdelik laat aflei sy ma het haar kant van die storie (haar lewensverhaal) in die roman vertel, omdat dit ooreengestem het met die feite wat sy hom van sy pa en hulle huwelik vertel het. Stef word egter ontnugter as hy deur Fritz oortuig word dat sy afleidings subjektief en foutief was. Die briewe wat Fritz oor die jare aan Helene geskryf het en altyd onoopgemaak deur haar teruggestuur is, openbaar uiteindelik wat die ware toedrag van sake was. Stef word op ’n swygsame wyse oortuig dat Prof nie ’n monster was soos hy al die jare gedink het nie; die roman was toe al die tyd suiwer fiksie en nie “outobiografies” van aard nie.

Stef en Fritz het baie gemeen, aangesien albei akademici is. Stef se veld is Antropologie, maar hy is nie ’n stywe, self-gesentreerde, ongevoelige of ontoegeeflike soort persoon nie. Hy is 'n Professor in Geskiedenis aan KOVSIES en is ook 'n regsgeleerde.

Stef was baie na aan sy ma, maar is nooit opgepiep nie. Hy is plat op die aarde, sjarmant, reguit en kom maklik met mense oor die weg. Ten spyte hiervan het hy 'n passiewe aggressie en derhalwe kan hy hoogmoedig oorkom.

Hy is ook die avontuurlike buitelugsoort en neem deel aan sportsoorte soos roei (provinsiale kleure), river rafting, rotsklim, abseiling, en valskermspring. Tog is hy nie grootdoenerig daaroor nie. Stef is, behalwe al die begenoemde goeie kwaliteite, nie ’n pushover nie. Hy het groot agting vir vroue, alhoewel hy hulle nie te na aan hom toelaat nie.