Marius Burger



Dit wat grillerige gediertes is vir die meeste van ons, beskou Marius as sy vriende in lae plekke. Al van skooldae af vang hy alles wat wriemel en seil en kruip en spring, en met die jare heen het hy al wyd en suid gereis op soek na reptiele en amfibiërs. In Gaboen het hy vir maande lank die reënwoude verken tydens herpetologiese opnames vir die Smithsonian Instituut, en het hier selfs gehelp met krokodil-flilms saam met National Geographic.

In die Sentraal Afrika Republiek het hy ‘n bietjie teenspoed opgetel toe ‘n klein burgeroorlogie hier uitgebreek het. Sy medewerkers en hy kon gelukkig hierdie penarie ontglip deur met die Dzanga Rivier af te roei en toe met ‘n ompad deur Kameroen en Frankryk het hulle weer die pad huistoe gevind.

Op sy eerste besoek aan Kenya het hy ‘n nuwe padda spesie ontdek binne 15 minute van sy vertrek vanaf die lughawe. Die huurmotor se venster was oop, en Marius het die bestuurder laat stop toe hy die roepe van ‘n onbekende blikslanertjie vanuit ‘n poeletjie langs die pad gehoor het. In Madagaskar is ‘n nuwe spesie padda na hom vernoem - Boophis burgeri - of Burger se Glinsteroog.

Marius se pa wou gehad het dat hy ‘n gesondheidsinspekteur moes word, maar gelukkig vir ons almal het Marius daarteen besluit en eerder ‘n loobaan in natuurbewaring gevolg. Hy was vir 11 jaar ‘n navorsingsassistent by Oos-Kaap Natuurbewaring en is tans die projekherpetoloog vir SARCA (Southern African Reptile Conservation Assessment) - ‘n inisiatief wat ten doel het om die Rooidataboek vir reptiele van Suid Afrika, Lesotho en Swaziland te hersien.

Hy is een van die redakteure van die Suid Afrikaanse Padda Atlas Projek wat in 2004 gepubliseer is en het onlangs saam met Krystal Tolley van SANBI ‘n boek oor Suid-Afrika se verkleurmannetjies geskryf.