Esther van der Westhuizen fokus op Groen op die kleiner diere wat ons so maklik miskyk - die insekte, spinnekoppe en skerpioene, en ook kleiner soogdiertjies soos muise. Esther het haar debuut as Groen-aanbieder op 17 Augustus 2008 gemaak, met ´n heerlike program oor die goggas van die Groot Karoo!Esther het in 1986 by die Universiteit van Wes-Kaap as dosent in Dierkunde begin werk, nadat sy haar M.Sc. Dierkunde by die Universiteit van Stellenbosch voltooi het. Sy het vir sowat 9 jaar daar klas gegee, waarna sy saam met haar ma die skoenlapper- en insekpark, Butterfly World, begin het.
Deur met skoenlappers en ander goggas te werk het ‘n wêreld vir Esther oopgegaan wat haar al geneem het vanaf die reënwoude van Maleisië en Kenia, na die Sonorawoestyn in Arizona, skoenlapperparke in Europa, Australië, Asië en VSA. Sy stel belang in die opvoedkundige waarde, asook die welstand, van diere wat vertoon word in dieretuine, en dien op die uitvoerende komitee van die African Association of Zoos and Aquaria.
In die laaste paar jaar het haar belangstelling begin neig na spinnekoppe, veral toe sy begin agterkom het hierdie groep diere is ongelooflike divers, interessant, misterieus, glad nie gevaarlik nie, en mooi, mooi, mooi!






