5 Januarie 2004 het Dave in die eerste episode van Groen verskyn en sedertdien is hy elke week op die kassie te sien. Elke keer in 'n nuwe omgewing, besig om die wonders van ons natuur te verken. Junie 2006 is die 100ste episode van Groen uitgesaai, met hom natuurlik as aanbieder.Die Groen-span besoek Namibië, Botswana, Tanzanië, Zanzibar en natuurlik Suid-Afrika gereeld en sorg vir nuwe episodes elke week. Dave bied aan kykers 'n persoonlike ervaring van ons natuurskoon - van die oewerkonyn, suidelike Noordkaper walvis, seeskilpaaie langs die Natalse kus, krokodille en seekoeie van die Okavango, die wêreld se grootste landkrap en 'n ontmoeting met die Rooi kolobus van Zanzibar. Hy waag ook gereeld sy lewe om kykers nader aan gevaarlike diere te bring- van boomslange tot die skaars Gaboen-adder - en duik selfs tot dieptes van 38 meter agter die groen seeskilpad aan!
As jy vir Dave ontmoet, besef jy die natuur is sy passie, maar wat hy die meeste geniet is om dit met jou te deel. Hy is in Robertson gebore en sy heel eerste ontmoeting met die veld was saam met sy oupa, Boy le Roux, wat hom speels in 'n kruiwa uit die dorp gestoot het om die veld te gaan verken. Dave se belangstelling in die veld was dus amper 'geneties' en vorm die basis van sy bestaan.
Dave het aan die Hoërskool Robertson gematrikuleer, waarna hy Bosbou aan Saasveld-bosboukollege gestudeer het. Hy het later 'n M.Phil-graad in Dierkunde aan Cambridge Universiteit verwerf. Tot met sy aftrede in 2005 was hy 'n senior lektor by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie.
Tans is hy verbonde aan die CIB (Centre for Invasive Biology) by die US en gee steeds klas by Bewaringsekologie. As omgewings-konsultant strek Dave se bydrae tot diep in Afrika en Chile, Tanzanië en Uganda. Hy skryf gereeld artikels en bydraes vir VISI en Insig-tydskrifte.






